…As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre waaraan U ‘n plek gegee het, wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien? U het hom net bietjie minder as ‘n hemelse wese gemaak en hom met aansien en eer gekroon, U laat hom heers oor die werk van U hande, U het alles aan hom onderwerp: skape en beeste, alles; selfs die diere in die veld, die voëls in die lug, en die visse in die see wat die oseane deurkruis. Here, ons Here hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde!
By RCH Ile de France Stoet asook die kommersiële kant van ons boerdery, beklemtoon ons die Ile de France se ingebore vermoë om op ‘n baie jong ouderdom talle meerlinge te lewer en gou swaar lammers wat markgereed is te speen.
Ons boer met vroegryp-tipe diere wat hulself in alle toestande onderskei en oor baie jare tot die Ile de France ras se gewildheid bygedra het. Die beste reproduserende ooie het die vermoë om in ekstensiewe asook intensiewe stelsels as doeltreffende superlamfabrieke uit te troon. RCH se missie is dieselfde as die IDF Genootskap se missie wat jare gelede reeds opgestel is: – “super slaglamproduksie, kwaliteit vleis aan die verbruiker”.
In droogtetye kom net die beste, aangepaste diere die mas op, daarom is tipe en bouvorm baie belangrik binne die stoet. As voer bekostigbaar is maak telers aanpassings en skuif die plafon van diereproduksie, deur altyd te sorg dat diere toegang tot optimale voeding het, dit is dan waar daar ‘n geneigdheid kom om primêr op die beste groeiers klem te lê. Dit kan die belangrikheid van doeltreffendheid maklik laat vervaag. Droogtes en duur voer stel ondoeltreffende diere aan die kaak, so leer telers op die harde manier. Dit dwing hulle om opnuut op die werklike, fundamentele beginsels van diereteling klem te lê en herbevestig die klem op die optimale tipe diere binne die ras wat die toets van tyd kan deurstaan.
Ons gaan nie ons teelbeleid verander nie...RCH hou by ons vroegryp-tipe.
Dit is egter al herhaaldelik bewys, nie net by skape nie, maar ook by beeste, dat die ware staatmakers in 'n ras die mediumraam-tipe diere is wat makliker in ‘n wye reeks omgewings- en voedingstoestande aanpas as diere wat hoog op die been en laatryp tipes is. Die natuur verdra nie uiterstes nie.
Kapasiteit en bespiering is baie belangriker as grootte.
Die Ile de France skaapras word sedert 1822 in Frankryk geteel. Die ras besit uitstekende vleiseienskappe en is hoogs aanpasbaar. Daar word reeds wêreldwyd in meer as 30 lande, in uiteenlopende boerderytoestande, suksesvol met die ras geboer. Die skaapras is daarvoor bekend dat hy nie selektief wei nie en dat hy voer doeltreffend benut en daarom presteer die ras ook uitstekend in ekstensiewe toestande.