Die jaarlikse karkaskompetisie by die Royal Skou in Pietermaritzburg het weer vir groot opwinding gesorg toe die wenkarkas vir R1350 per kilogram opgeveil is. Landbouweekblad is ‘n borg van die kompetisie.
Die wenkarkas van me. Regina Harmse van die RCH Ile de France-stoet naby Ermelo het ’n telling van 99.37% volgens die Samic-beoordeling behaal.
Die grootste kopers van die aand, die Oysterbox-restaurant in Durban, wat onder meer die wenkarkas vir R31 455 gekoop het, was verantwoordelik vir meer as die helfte van die aand se omset van ’n raps meer as R235 000.
Die hoofsjef van die Oysterbox, mnr. Kevin Joseph en mnr. Wayne Coetzer, hoofbestuurder van die Oysterbox-hotel, het vir niks teruggestaan met die bieëry vir die wenkarkas nie.
“Ons beskou onsself as die toprestaurant in die land en daarom soek ons die topkarkasse in die land,” het Joseph na die veiling gesê.
Die beste beeskarkas op die skou was ’n Bonsmara van die Mtubatuba Mini Farms en is vir R70/kg aan die Oysterbox opgeveil. Die wen varkkarkas was van PIC genetika en geteel deur mnr. Gerd Baum van die Joseph Baynes Estate en is ook deur die Oysterbox teen R30/kg gekoop.